In aanloop tot die beplande betogings op 30 Junie het die polisiediens suksesvolle en konstruktiewe samesprekings met die privaat veiligheidsbedryf-regulasie-owerheid (Psira) en verteenwoordigers van privaat veiligheidsmaatskappye van regoor die land gehou.
In haar opmerkings ná die vergadering het lt.genl. Puleng Dimipane, die waarnemende nasionale kommissaris, erkenning gegee aan Firoz Cachalia, die waarnemende polisieminister, wat die vergadering gelei het, sowel as adjunkministers Polly Boshielo en Cassel Mathale, wat virtueel aangesluit het. Sy het ook Manabela Chauke, Psira-hoof, bedank vir die mobilisering van belanghebbendes.
Die vergadering het beklemtoon dat al die veiligheidsrolspelers moet koördineer, kommunikeer en saam voorbereidings tref nou dat die land net dae van die beplande betogings verwyder is. Die waarnemende minister het verwys na die gebeure van Julie 2021, wat leemtes in koördinering, kommunikasietekortkominge, beperkings in vroeë-waarskuwingstelsels en onvoldoende samewerking tussen rolspelers blootgelê het. Een van die belangrikste lesse wat geleer is, is dat geen enkele organisasie sulke omvattende dreigemente alleen kan hanteer nie, omdat sukses koördinasie, beplanning, inligtingdeling en eenheid verg. Hy het die privaat veiligheidsbedryf as ‘n kritieke vennoot in die bekamping van misdaad en die handhawing van stabiliteit beskryf, met honderdduisende veiligheidsbeamptes regoor die land wat as ‘n belangrike kragvermenigvuldiger vir wetstoepassing dien.
Deur die “Eyes and Ears”-inisiatief en die vennootskap met Business Against Crime South Africa speel privaat veiligheidsmaatskappye ‘n belangrike rol in misdaadvoorkoming en situasionele bewustheid. Die waarnemende minister het verseker dat die polisie, in samewerking met metro- en privaat veiligheid, ten volle voorbereid is vir die betogings op 30 Junie. Omvattende beplanning is op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak onderneem, operasionele planne is afgehandel, en hulpbronne is gemobiliseer. Die doelwit is om wetlike en vreedsame betogings, soos deur die Grondwet bepaal, te beskerm.
Daar sal beslis opgetree word teen enigeen wat hom aan kriminele gedrag skuldig maak. Padblokkades, intimidasie van gemeenskappe, vernietiging van eiendom, aanvalle op besighede, plundering, geweld en enige poging om openbare orde te ondermyn, sal nie geduld word nie. Sy boodskap aan enigeen wat oorweeg om die betogings te misbruik om misdaad te pleeg, was duidelik: die polisie is gereed, die polisie is voorbereid en wetstoepassing sal binne die grense van die wet optree om openbare orde te handhaaf en lewens en eiendom te beskerm.
Buitelandse burgers in die land is herinner om geldige dokumentasie by hulle te hê. Privaat sekuriteitsmaatskappye is bedank vir hul gewilligheid om met die polisie in vennootskap te tree en hulpbronne, tegnologie en kundigheid tot die operasionele planne by te dra.





