NOORD-KAAP. – Die polisie in die Noord-Kaap het wenke gegee om jou veiligheid eerste te stel wanneer jy nagklubs, kroeë en sosiale byeenkomste bywoon.
Lt.kol. Sergio Kock sê die polisiëring van geslagsgebaseerde geweld bly vir die polisie ‘n prioriteit. Veiligheidswenke wat kan help dat jy nie ‘n slagoffer van misdaad word nie, is belangrik.
Besoek plekke met ‘n goeie reputasie. ‘n “Buddy-sisteem” is ‘n goeie keuse, wanneer daar in ‘n groep uitgegaan word en persone in die groep regdeur die aand by mekaar bly. Die groep moet saam by die perseel aankom, oor mekaar besorg wees en die perseel saam verlaat totdat almal veilig tuis is.
Betroubare vervoer na en van ‘n kuierplek moet vooraf beplan word. Moet nooit alleen stap as jy moet stap nie. Moet ook nie kortpad deur donker en verlate areas neem nie. Geen geleentheid wat deur ‘n vreemdeling aangebied word, moet aanvaar word nie.
Hou altyd jou drankie dop en moet dit nie alleen laat nie. Moet ook nie ‘n drankie van ‘n vreemdeling aanvaar nie. Daar moet verantwoordelik gedrink word en wees ten alle tye bewus van hoeveel jy drink, hoeveel jy kan drink en bly bewus van jou omgewing en mense om jou. Wanneer jy verdagte gedrag van ‘n persoon of groepe agterkom, rapporteer dit dadelik.
Moenie alleen die badkamer besoek nie, maar maak gebruik van die “buddy-sisteem” en laat iemand wie jy vertrou, jou vergesel.
Waardevolle items moenie ten toon gestel word nie, dit kan ongewenste aandag lok. Hou waardevolle items veilig en dra jou ID en kontant in ‘n veilige houer of op jou persoon.
Dit is ‘n goeie idee om selfverdedigingstegnieke aan te leer sodat jy jouself in potensieel gevaarlike situasies kan verdedig. Hou ‘n noodnommer by jou wat vinnig geskakel kan word. Dit kan jou naaste polisiestasie of 10111 wees.
Kock sê deur by die basiese veiligheidswenke te hou, kan gevare uitgeskakel word en ‘n uitstappie geniet word.
“As jy iets sien, sê iets!”
Skakel die GBV-hulplyn by 0800 150 150 of maak van die MySAPS-toepassing gebruik om misdaad te rapporteer.
Call Stop Gender Violence Helpline: 0800 150 150 or report GBVF crime to the MySAPS app.





