OOS-KAAP. – Die OR Tambo-distrik se veediefstalvoorkomingstaakspan het verlede Woensdag groot sukses behaal toe hulle 109 vermoedelik gesteelde skape in Tsolo en 98 beeste in Qumbu opgespoor en herwin het.
Kapt. Welile Matyolo, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die taakspan is kort voor 01:00 die oggend, terwyl hulle in die Mthatha-omgewing gepatrolleer het, deur radiobeheer (10111) oor ’n diefstal in Mhlakulo, Tsolo, ingelig. Diewe het glo ’n kraal oopgebreek en 109 skape, ter waarde van sowat R189 000, gesteel. Die polisie, saam met die eienaar, het vinnig opgetree en al die gesteelde diere ongeskonde teruggevind nadat die diewe dit in hul haas agtergelaat het. In ’n afsonderlike voorval in Mahlungulu, Qumbu, het die taakspan inligting ontvang oor 98 beeste, met ’n geraamde waarde van R890 000, wat vermoedelik ook gesteel is. Met aankoms was daar geen verdagtes op die toneel nie, maar die diere is in die Qumbu- munisipale veekraal geplaas. Sommige beeste het verskillende tatoeëermerke gehad, terwyl ander glad nie gemerk was nie.
Die taakspan was van ongeveer 01:00 tot omstreeks die middag met patrollies in bekende veediefstalbrandpunte besig. Daar word vermoed die beweerde diewe het die taakspan opgemerk en die vee net so gelos. Die polisie doen ’n beroep op boere en inwoners met verlore of gesteelde vee om die Tsolo- en Qumbu- munisipale veekraale te besoek, aangesien die diere daar gestoor word totdat hulle eienaars geïdentifiseer word.





