GAUTENG. – ‘n Deurbraak word binnekort verwag in die soektog na die persoon wat Khethamabala Sithole (68), ‘n IVP-parlementslid, Saterdagaand in Katlehong aan die Oos-Rand doodgeskiet het.
Genl. Fannie Masemola, die nasionale kommissaris van die polisie, sê hy het volle vertroue in die span wat aangewys is om die saak te ondersoek.
Volgens brig. Athlenda Mathe, nasionale polisiewoordvoerder, het Masemola Maandagaand met die ondersoekspan onder leiding van lt.genl. Shadrack Sibiya, die adjunk-nasionale kommissaris van misdaadopsporing, en lt.genl. Tommy Mthombeni, die provinsiale kommissaris van Gauteng, vergader.
Die generaal sê hy is tevrede met die bewyse wat die span reeds ingesamel het. “Ons weet wie ons soek – dit is net ’n kwessie van tyd voordat ons die verdagte in hegtenis neem. Ons doen ook ’n beroep op hom om homself by die naaste polisiestasie oor te gee,” het hy bygevoeg.
Sithole was ‘n lid van die IVP se Nasionale Raad en het as die party se adjunk-hoofsweep in die Parlement gedien. Sithole het hom op ‘n jong ouderdom by die IVP aangesluit en het in verskeie strukture van die party gedien.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





