LIMPOPO. – Die polisie doen ‘n beroep op die publiek om te help met die opsporing van verdagtes ná die kaping van ’n 38-jarige eiendomsagent in Bela-Bela (voorheen Warmbad).
Volgens kol. Malesela Ledwaba het die voorval op 2 Februarie omstreeks 13:10 by die Eskort-parkeerterrein oorkant die Engen-vulstasie plaasgevind. Die slagoffer van Kromdraai het glo ’n kliënt daar ontmoet toe twee onbekende mans in sy silwer Ford Ranger geklim en hom met ’n vuurwapen gedreig het. Die verdagtes het hom glo van Bela-Bela na Klerksdorp geneem, waar hy vermoedelik bedwelm en later in ’n straat afgelaai is.
Sy voertuig is die volgende dag in Pretoria-Wes teruggevind. Die saak word tans deur die Modimolle-voertuigmisdaadeenheid (voorheen Nylstroom) ondersoek. Die polisie het ’n persoon van belang van kringtelevisiebeeldmateriaal geïdentifiseer en versoek hom om by die naaste polisiekantoor aan te meld.
Enigiemand met inligting kan kapt. Charles van der Walt by 082 565 8184 bel.





