LIMPOPO. – Lt.genl. Thembi Hadebe het opdrag aan polisielede gegee om die verdagtes in die plaasaanval op Dawid (85) en Liesbet (79) Grobbelaar te vind en te arresteer. Polisie vra diegene met inligting om na vore te kom.
Kol. Malesela Ledwaba sê dit is ‘n bron van ernstige kommer vir die polisie dat tot dusver nog geen inhegtenisnemings gemaak is nie. Volgens die polisie se inligting is die egpaar Saterdag omstreeks 20:30 op ‘n plaas in Tzaneen aangeval en hulle vuurwapens gesteel. Die egpaar was tuis toe verdagtes met ‘n panga, vensters van die huis gebreek het om toegang te verkry. Die Grobbelaars is gedreig om vuurwapens en geld te oorhandig. Hulle is daarna met skoenveters vasgebind en aangerand.
Ledwaba sê die verdagtes is met vyf vuurwapens, wat gewere en ammunisie, asook ander items insluit, te voet van die toneel weg. Die polisie is van die aanval verwittig en ‘n saak van huisroof is geopen. ‘n Gesamentlike soektog na die verdagtes is onmiddellik geloods. Die spore van die verdagtes is gevolg tot waar hulle oor ‘n draad is. Hulle het daarna in bosse rondom Letsitele-vallei met drie van die vuurwapens verdwyn. Die ander twee vuurwapens is teruggevind waar dit laat val is.
Genl. Hadebe het die terugvind van die vuurwapens geprys. Sy versoek die gemeenskap om saam met die polisie te werk om die verdagtes te arresteer en die vuurwapens, tans in verkeerde hande, terug te kry.
Enigiemand met inligting word versoek om kol. Phoyisa Zitha by 082 414 3309 te bel.
Die ondersoek duur voort.





