NOORDWES. – Belzaser Johannes Moolman (61) se liggaam is op 16 Desember 2023 langs ‘n pad aangetref. Die polisie vra enigiemand wat met die geregtelike doodsondersoek kan help om na vore te kom.
Kol. Adéle Myburgh sê Moolman was ‘n motorwag in Dr. James Morokarylaan in Potchefstroom en is op die middag van 15 Desember 2023 laas lewend gesien toe hy na ‘n nabygeleë winkel is. Die volgende dag het ‘n verbyganger om 10:00 op sy liggaam ongeveer 17 km buite Potchefstroom langs die Viljoenskroonpad, by Haaskraal, afgekom. Die sak wat Moolman altyd by hom gehad het, is later aan flarde in Paulstraat, Potchefstroom, gekry.
Enigiemand wat relevante inligting het om die polisie met die ondersoek te help, kan AO Simon Mokgopha van Potchefstroom-speurtak by 083 553 8672 of 018 2997411 bel.