LIMPOPO. – ’n Polisiebeampte, verbonde aan Naboomspruit-polisiekantoor, en ses gevangenes is Donderdag omstreeks 09:00 in ’n botsing tussen ’n polisievoertuig en ’n vragmotor op die R101 tussen Mokopane en Mookgopong, ’n paar kilometer voor Naboomspruit, dood.
Brig. Hlulani Mashaba, polisiewoordvoerder, sê volgens voorlopige inligting het die polisievoertuig elf gevangenes, insluitend een vrou, van die Mokopane-polisiekantoor na die Naboomspruit-landdroshof vervoer toe dit met die vragmotor gebots het. Vyf ander gevangenes is beseer en is vir mediese behandeling na ’n plaaslike hospitaal geneem. Die vragmotorbestuurder is ongedeerd. Die identiteit van die oorledenes sal bekend gemaak word nadat naasbestaandes ingelig is en amptelike identifikasie afgehandel is. Lede van die eenheid vir werknemerwelstand (EHW) is ontplooi om psigo-sosiale ondersteuning aan die betrokke families te bied.
“’n Deeglike ondersoek sal gedoen word om die presiese oorsaak van hierdie voorval te bepaal,” het lt.genl. Thembi Hadebe, provinsiale kommissaris, gesê.
Susana Mathye, die LUR vir vervoer en gemeenskapsveiligheid, het gesê die departement is bewus van die ongeluk. “Ons doen ’n beroep op alle padgebruikers om versigtig te wees en padveiligheidsreëls na te kom om soortgelyke voorvalle te voorkom.”