Brekende Nuus
Nuus

Polisiebeampte ondersoek ná beweerde aanranding van afleweringsbestuurder

Foto: Skermgreep van video-opname South Africa Crime update channel

NOORDWES. – Die polisie ondersoek ’n klag van aanranding en crimen injuria nadat ’n 33-jarige motorfietsafleweringsbestuurder na bewering Saterdagmiddag deur ’n polisiebeampte in burgerlike klere aangerand is. ’n Video van die voorval, waarin die bestuurder en ’n man wat na bewering ’n polisiebeampte is, in ‘n konfrontasie betrokke is, het op sosiale media versprei.

Volgens polisiewoordvoerder, kol. Adéle Myburgh, sê lt.genl. Arthur Peter Adams, Noordwes-polisiekommissaris, die voorval word met erns bejeën en dat hy enige vorm van geweld, intimidasie of magsmisbruik deur polisiebeamptes veroordeel. Die bestuurder het ’n strafsaak van aanranding en crimen injuria aanhangig gemaak, wat tans ondersoek word.

Adams het ook ’n interne ondersoek na die omstandighede gelas. Indien die ondersoek wangedrag of ’n oortreding van die wet deur die betrokke polisiebeampte bevestig, sal toepaslike stappe geneem word. Hy het ’n beroep op die publiek gedoen om kalm te bly en die ondersoek sy gang te laat gaan. Enigiemand met inligting wat die ondersoek kan help, word versoek om hul naaste polisiekantoor te kontak.