GAUTENG. – ’n Polisiekaptein (59) verbonde aan die SAPD se Pretoria-Wes-opleidingsakademie as ‘n vuurwapeninstrukteur, sal tot minstens 23 Mei in aanhouding bly nadat sy borgtogaansoek op ‘n verkragtingsaanklag vandag in die Pretoria-landdroshof uitgestel is. Die uitstel volg nadat nog klagtes van beweerde seksuele aanranding teen hom ingedien is.
Volgens Lizzy Suping, woordvoerder van die Onafhanklike Polisie-ondersoekdirektoraat (Opod), is verskeie nuwe klagtes van seksuele aanranding teen die kaptein, met 31 jaar diens, ingedien en verdere ondersoeke is aan die gang. Die hof het besluit om die saak uit te stel om die ondersoek voort te sit.
Volgens inligting het die klaagster (20), ’n student aan die akademie, op 6 Mei saam met haar peloton na hulle slaapkwartiere beweeg toe die kaptein haar glo na sy kantoor ontbied het. Daar sou hy die deur agter haar gesluit en haar met dissiplinêre stappe gedreig het indien sy nie aan sy seksuele eise sou voldoen nie. Hy het glo verwys na ’n beweerde voorval in April toe sy hom nie gesalueer het nie en aangedui dat hy haar van wangedrag sou aankla.
Volgens Lumka Mahanjana, woordvoerder vir die NVG, sal die borgtogaansoek teengestaan word.
Lees meer hier onder:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





