KWAZULU-NATAL. – ‘n Polisiekonstabel (38) wat Sondagmiddag tydens ‘n skietery met die polisie in Lindelani in Ntuzuma ontsnap het, is vanoggend in hegtenis geneem.
Kol. Robert Netshiunda sê die konstabel is ook by KwaMashu-polisiestasie gestasioneer.
“Hy is by ‘n hospitaal noord van Durban gekry waar hy vir ‘n skietwond aan sy linkerarm behandel is.”
Die konstabel sal binnekort in die hof verskyn.
Nuusflits het voorheen soos volg berig:
‘n Polisiesersant wat kort vantevore nog aan diens was, is een van drie verdagtes wat Sondagmiddag in twee skietinsidente in Ntuzuma deur die polisie doodgeskiet is.
Kol. Robert Netshiunda sê ten minste ses verdagtes, van wie sommige in polisie-uniform geklee, het glo Sondagoggend ‘n winkel op Richmond bestorm. Die winkeleienaar en sy personeel is met wapens aangehou en beroof, voordat die verdagtes met ‘n onbekende bedrag geld en items gevlug het.
Die polisie het die verdagte voertuie wat van die toneel weggejaag het in Mgwenya-rylaan in Lindelani by ‘n huis opgespoor. Die verdagtes het by die huis uitgestorm en op die polisie geskiet. Twee van die verdagtes is noodlottig gewond toe die polisie teruggeskiet het. Beide het polisiepette opgehad en een het ook ‘n polisievuurwapen en koeëlvaste baadjie in sy besit gehad. Nog ‘n koeëlvaste baadjie en reënjas van die polisie is in die huis gevind. ‘n Privaat voertuig van ‘n polisielid wat vroeër die oggend nog by KwaMashu-polisie van diens gegaan het, is ook op die toneel gevind.
Netshiunda sê terwyl die polisie nog besig was met die toneel is inligting van ‘n beseerde polisiebeampte wat in ‘n informele nedersetting in Phindangene in ‘n sinkhuis skuil, gekry. Met aankoms by dié adres het ‘n sersant glo op die polisielede geskiet. Hy is egter tydens die skietery doodgeskiet. Die polisievuurwapen en die privaat voertuig op die eerste toneel het aan die oorlede sersant op die tweede toneel behoort.
Netshiunda sê die huis waar die verdagtes gevind is, behoort glo aan ‘n verdagte van ‘n transitorofftog wat op borg uit is.
‘n Soektog na nog drie verdagtes wat op vrye voet is, is onderneem. Daar word ook ondersoek of die polisiesersant by meer rooftogte betrokke was.
“Die provinsiale kommissaris van KwaZulu-Natal, lt.genl. Nhlanhla Mkhwanazi, het herhaal dat die polisie misdaad van binne beveg en dat polisiebeamptes betrokke by kriminele aktiwiteite hard met die wet sal kennis maak.”
Enigeen met inligting oor waar die verdagtes hulle bevind, word gevra om na vore te kom.