OOS-KAAP. – ‘n Polisiesersant (42), verbonde aan Oos-Londen se honde-eenheid, is Sondagoggend omstreeks 05:00 voor sy huis in Ndantsane doodgeskiet.
Lt.kol. Siphokazi Mawisa sê die sersant was ten tyde van sy sterfte nie aan diens nie. Hy is met aankoms van die polisie op die toneel met skietwonde in sy bolyf aangetref.
“Tydens die voorlopige ondersoek is ontdek dat niks van sy besittings geneem is nie, en sy voertuig is op die toneel gevind.”
Die omstandighede van die sersant se moord is deel van die ondersoek.
Geen inhegtenisnemings is gemaak nie. Die saak word deur die Valke ondersoek.
Lt.genl. Nomthetheleli Mene het enigiemand met inligting gevra om na vore te kom: “Ons betuig ons innige meegevoel aan die familie van die sersant en sy kollegas. Mag sy siel in vrede rus.”





