KAAPSTAD. – ’n Bestuurder van ’n geel Porsche is Maandagoggend voor 08:00 in hegtenis geneem vir dronkbestuur ná ’n botsing met ’n minibus-taxi op FW de Klerk-boulevard, net ná Marine Drive in die Kaapse middestad.
Verkeersbeamptes het op die toneel gereageer en ’n asemtoets het ’n alkoholvlak van 0,52mg/1000ml aangedui — meer as dubbel die wettige perk van 0,24mg/1000ml.
“Dit is maar die jongste insident wat luukse sportmotors betrek die afgelope paar maande en beslis nie ‘n goeie begin tot die week nie,” sê Alderman Jp Smith, die Stad Kaapstad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid en sekuriteit. “Die feit dat die bestuurder so vroeg in die oggend gearresteer is en met ‘n lesing van meer as dubbel die wetlike perk, maak dié oortreding selfs meer kommerwekkend. Die ongeluk kon ernstige gevolge gehad het, met onskuldige passasiers wat seergemaak kon word. Ons wetstoepassingsagentskappe sal nie wetteloosheid duld nie en sal aanhou om oortreders vas te trek. Ons het almal ‘n verantwoordelikheid om tot veiliger paaie by te dra.”
Die Stad se handhawingsagentskappe het die afgelope week hul hande vol gehad:
- 36 351 oortredings is deur verkeersbeamptes aangeteken.
- 1 251 lasbriewe is uitgevoer.
- 179 openbare vervoervoertuie is van die pad af verwyder
- Verkeersbeamptes het 26 mense in hegtenis geneem, 23 vir dronkbestuur
- Metro-polisiebeamptes het 50 verdagtes gearresteer en 2 477 boetes uitgereik.
- Wetstoepassingsbeamptes het 159 verdagtes gearresteer en 7 021 boetes uitgereik.
In Hanover Park het Metro-polisiebeamptes die naweek ‘n 23-jarige verdagte vasgetrek nadat die ShotSpotter-stelsel hulle op verskeie skote gewys het. Die beamptes het die verdagte sien weghardloop en hom gekonfronteer. Hy was in besit van ‘n 9mm-pistool sonder ‘n reeksnommer en 11 ammunisiepatrone.
Die Stad se Openbare Noodkommunikasiesentrum (PECC) het hierdie naweek 1 632 oproepe ontvang, waarvan 110 aanrandings en 53 motor- en voetgangersongelukke was.
Inwoners word herinner om enige noodsituasie of misdaad aan te meld deur die PECC te skakel by 021 480 7700 vanaf ‘n selfoon of 107 vanaf ‘n landlyn.






