Prokureur buite kantoor geskiet – vyf verdagtes vasgetrek

Lees ook :

Foto: Ter illustrasie Canva

OOS-KAAP. – Nadat ‘n prokureur (70) Vrydagoggend omstreeks 09:48 buite sy kantoor in Vincent in Oos-Londen in die bolyf geskiet is, is vyf verdagtes vir poging tot moord in hegtenis geneem.

Kol. Priscilla Naidu sê die slagoffer het net sy voertuig parkeer en wou die kantoor binnegaan toe twee verdagtes hom genader en verskeie kere geskiet het. Die verdagtes het in ‘n silwerkleurige Mercedes-Benz gevlug. Die slagoffer is vir mediese behandeling na ‘n hospitaal geneem.

Naidu sê die silwerkleurige Mercedes Benz is onder ‘n uur in Amalinda opgespoor en ‘n man (42) is in hegtenis geneem nadat ‘n verdagte Renault Clio voor ‘n kompleks by die strandfront opgemerk is. Observasiedienste is gedoen terwyl daar vir rugsteun gewag is. Daarna is nog twee verdagtes, onderskeidelik 35 en 41 jaar oud (vermoedelik die huurmoordenaars) wat glo met ‘n bus na Durban probeer vlug het, in Mthatha vasgetrek toe die bus voorgekeer is.

Naidu sê nog twee verdagtes is gisteroggend in ‘n huis in Westville in Durban in hegtenis geneem. Twee vuurwapens wat in ‘n huis in Quigney gevind is, sal vir ballistiese toetse gestuur word.

Die vyf verdagtes is aangehou en vir poging tot moord aangekla. Die motief vir die misdaad word nog ondersoek. Volgens Naidu sal die verdagtes binnekort in die hof verskyn, maar meer klagtes kan moontlik soos wat die ondersoek voortduur, bygevoeg word.

Lt.genl. Nomthetheleli Mene het die vinnige, suksesvolle ondersoekwerk geprys en gesê daar kan weens die sensitiwiteit van die saak nie meer inligting vrygestel word nie.

Volg FiND iT se Facebookblad hier en klik hier om ons app af te laai. Klik hier vir vandag se nuutste nuus.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App