WES-KAAP. – Theo Hartzenberg, ‘n prokureur, is effektief tot agt jaar direkte tronkstraf gevonnis. Sy naam word in die nasionale kinderbeskermingsregister en die nasionale register vir seksuele oortreders aangebring.
Eric Ntabazalila, woordvoerder vir die NVG, sê Hartzenberg is agt jaar vir statutêre verkragting gevonnis, waarvan drie jaar vir vyf jaar opgeskort is. Op die aanklag van seksuele uitbuiting van ‘n kind is hy ook tot agt jaar direkte gevangenisstraf gevonnis. Op die aanklag van betrokke raak by seksuele dienste van ‘n persoon ouer as 18 jaar is hy tot drie maande direkte tronkstraf gevonnis, wat vir vyf jaar opgeskort is. Die vonnisse sal gelyktydig uitgedien word en dus is Hartzenberg tot agt jaar direkte tronkstraf gevonnis.
Hartzenberg is in Februarie deur die hof op die aanklagte skuldig bevind. Die Wynberg-streekhof het hom verder ook onbevoeg verklaar om ‘n vuurwapen te besit.
Ntabazalila sê Hartzenberg het op meer as 20 aanklagte onskuldig gepleit. Die slagoffers van sy misdade het egter teen hom getuig. Die hof het bevind die bewyse teen Hartzenberg is oorweldigend en dat die staat sy saak teen hom bewys het.
Die NVG het die vonnis teen die prokureur verwelkom.





