WES-KAAP. – Suid-Afrikaners met familie en vriende in Australië kry vanaf Oktober 2027 ’n nuwe reisopsie wanneer Qantas drie keer per week direkte seisoenale vlugte tussen Sydney en Kaapstad begin bedryf. Die eerste vlug vertrek op 19 Oktober 2027 en die reis sal sowat 14 uur en 25 minute duur.
Cam Wallace, internasionale uitvoerende hoof van Qantas, sê daar is sterk belangstelling onder Australiese reisigers om Kaapstad te besoek. Die nuwe roete sal passasiers wat tans deur Johannesburg reis, ’n direkte alternatief bied. Die Boeing 787-9 Dreamliner-vlugte sal op Dinsdae, Vrydae en Sondae vertrek en tot 24 Maart 2028 voortduur.
Volgens Qantas sal die diens byna 30 000 bykomende sitplekke tussen Australië en Suid-Afrika beskikbaar stel. Meer as 120 000 Australiërs het Suid-Afrika in 2025 besoek, terwyl bykans 225 000 Suid-Afrikaans-gebore persone tans in Australië woon. Ongeveer ’n kwart van hulle woon in Nieu-Suid-Wallis.
Wrenelle Stander, uitvoerende hoof van Wesgro, verwelkom die aankondiging en sê die direkte verbinding kan toerisme, handel, beleggings en werkskepping in die Wes-Kaap bevorder. Die nuwe roete volg 75 jaar nadat Qantas sy eerste geskeduleerde passasiersdiens na Suid-Afrika begin het.
Retoervliegkaartjies in ekonomiese klas word volgens Qantas se aankondigings vanaf AU$2 470 in Australië en R20 499 in Suid-Afrika aangebied. Pryse is onderhewig aan beskikbaarheid en die diens aan regulatoriese goedkeuring.
Druk hier om meer te lees.