RICHARDSBAAI, KZN. – Die Nasionale Seereddingsinstituut (NSRI) in Richardsbaai moes Donderdagoggend help om ’n tienerseun (18) van ’n passasierskip wat op pad na Mosambiek was, af te haal.
Volgens die NSRI het die skip vroeër die dag vanuit Durban vertrek. Die seun, oorspronklik van Johannesburg, het glo ‘n besering aan boord opgedoen.
Die skip se dokter en die Suid-Afrikaanse gesondheidsowerhede het ooreengekom die passasier moet so gou as moontlik by ’n hospitaal uitkom.
Die NSRI se Ocean Guardian-reddingskip het die passasierskip ongeveer 13 km van die Richardsbaai-hawe in die see ontmoet. Deinings van twee tot drie meter is aangedurf met ’n noordoostewind van ongeveer 74 km per uur.
’n NSRI-bemanningslid het die tiener tot in die reddingskip gehelp. Hy is in ’n stabiele toestand hospitaal toe vervoer.
Bronne: NSRI, IOL