Die 2026-rotavirusseisoen duur voort, met ’n skerp toename in gevalle in Pretoria en een sterfte wat aangemeld is.
Vuyo Sabani, woordvoerder vir die nasionale instituut vir oordraagbare siektes (Nios), doen ’n beroep op ouers om hul kinders teen rotavirus te laat inent en om voort te gaan met borsvoeding. Orale rehidrasie-oplossing kan aan kinders met diarree gegee word. Rotavirus is ’n algemene oorsaak van diarree by jong kinders en word deur die fekaal-orale roete oorgedra.
Die seisoen duur gewoonlik van Julie tot Augustus, maar kan tot September voortduur. Volgens prof. Nicola Page, hoof van die sentrum vir enteriese siektes by Nios, begin simptome dikwels skielik met braking, gevolg deur waterige diarree. Koors, verlies aan eetlus en lusteloosheid kan ook voorkom.
Ouers moet let op tekens van dehidrasie (ontwatering), soos ’n droë mond, geen trane nie, ingesonke oë, minder nat doeke, lusteloosheid of weiering om te drink. Ernstige ontwatering, wat onder meer vinnige asemhaling of hartklop, donker urine en oormatige slaperigheid kan veroorsaak, is ’n mediese noodgeval. Kinders met tekens van ernstige ontwatering moet onmiddellik na die naaste kliniek of gesondheidsfasiliteit geneem word.
Druk hier om meer te lees.