Rubriek: Sit dit af

Lees ook :

As daar nou een ding in die vermaaklikheidsbedryf is wat my gelyktydig interesseer, frustreer en irriteer, dan is dit die feit dat die Here se Naam so ydellik gebruik word.

Daar is ongeveer 10 000 verskillende gelowe of godsdienste in ons wêreld, waarvan die meer bekendes Boeddhisme, Christendom, Confucianisme, Hindoeïsme, Islam, Djainisme, Judaïsme, Shintoïsme, Sikhisme, Taoïsme en Zoroastrisme is. Toemaar, ek het ook nog nie van al hierdie name gehoor nie. Die interessante ding is dat jy nooit in die media sal hoor dat enige van hierdie gelowe se gode of profete bespot word of dat hulle name as ‘n vloekwoord gebruik word nie, behalwe natuurlik die Christene en Jode s’n. Alhoewel ons dieselfde God as die Jode dien, aanvaar hulle mos net nie vir Jesus en die Nuwe Testament nie.

LEES MEER: Slang in die kombuis

Nou hoekom is die wêreld so lief om Jesus se Naam deur die modder te sleep? Wel, iemand het een maal gesê dat as daar twee voëltjies op die stoep sit waarvan een lewendig is en die ander ‘n porselein beeld, dan sal die katte altyd die lewendige ene probeer vang. Ek los jou maar om self die spasies in te vul.   

Meeste mense glo dat die derde gebod wat beveel dat ons nie die Naam van God ydellik mag gebruik nie, beteken jy mag nie sy Naam as vloek- of skelwoord gebruik nie. Alhoewel ek nie hiermee stry nie, dink ek dit gaan dalk ‘n bietjie dieper as dit.  

In die geskiedenis van die Christendom het die sogenaamde Christene al afgryslike dinge in die naam van die Here gedoen. Kyk bietjie na die kruisvaarders van ouds wat miljoene mense se lewens geëis het, alles in die naam van God. Of die Spaanse inkwisisie wat duisende mense tereggestel of in tronke gegooi het, alles in sy naam. En kom ons vergeet nie wat ons sommer hier in Suid-Afrika gedoen het toe ons rassisme ingebring het nie. Die kerk het selfs met sy goedkeuring skrifte uit die Bybel (buite konteks natuurlik) aangehaal om dit te regverdig.

En weet jy wat is die skrikwekkende ding? Die feit dat die derde gebod stel dat diegene wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf sal bly nie. Voel dit dalk vir jou asof ons die afgelope paar dekades gestraf word?

My broer en suster, wees baie versigtig daarvoor om die Here se Naam by die storie in te bring as dit inderdaad JY is wat manipuleer om te kry wat jy wil hê.

En as jy weer ‘n movie of reeks kyk waarin hulle Jesus se Naam as vloekwoord gebruik, sit dit sommer af en kyk iets beters. Iemand moet iewers begin om op te staan teen hierdie dinge, dit kan net sowel jy wees.

Eksodus 20:7  Jy mag die Naam van die HERE jou God nie ydellik gebruik nie, want die HERE sal die een wat sy Naam ydellik gebruik, nie ongestraf laat bly nie. 

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief