Rubriek: Slang in die kombuis

Lees ook :

Laasnag sit ek voor die TV met ‘n lekker vet T-bone steak in my bord. Ek het klaar geoefen, klaar kos gemaak, en al wat oorbly, is om te eet en ontspan voor slaaptyd.

Halfpad deur die fliek, toe my pens lekker vol is en my hande vetterig van die vleis, besluit ek om gou kombuis toe te gaan vir ‘n bietjie water.

LEES MEER: Familie en feestyd

Dank die Vader die kombuislig was aan, want toe my kaalvoete aan die teëls raak, toe ruk ‘n koue vrees my tot stilstand. Voor my lê daar ‘n slang op die vloer, en dit wriemel met daai gladde lyf reguit op my af. Gelukkig was hy nie baie vinnig nie, maar ek was wel, en het gehol na die sitkamer terwyl ek seker maak ek hou hom in die oog. In wat gevoel het soos minute, maar wat dalk ‘n sekonde of vyf was, jaag my brein na moontlike oplossings vir hierdie penarie waarin ek myself bevind.

Tot my verbasing was ek redelik helder van verstand en kon die slang uitsorteer sonder dat ek my lewe in te veel gevaar gestel het.

Na so vyf minute bevind ek myself op die sitkamerbank met ‘n botteltjie koue water. Wat ‘n stresvolle ervaring! Die adrenalien het nou bedaar en ek is rustiger. Nou is dit tyd om te dink en die drama weer in my gedagtes af te speel.  

Ek dink by myself: Wat sou gebeur het as ek nie die slang in die kombuis gewaar het nie? Dit het by die voordeur ingekom en ek het hom letterlik net mooi betrap soos wat hy my woning ingaan. As ek hom gemis het, was hy weg in my huis. Onder ‘n bank, bed of agter ‘n kas. Wie weet hoe lank hy hier sou gewees het voordat ek hom vind? En wat kon gebeur het as ek iewers heen in die donker loop en per ongeluk daarop trap?  

Ek dink ons kan hierdie voorbeeld toepas op elkeen se lewen vandag. Watse euwel kom by jou voordeur in waarvan jy weet? Is dit verslawing, vrees of ‘n ander tipe sonde? En gaan jy daarmee afreken, of dit toelaat om in jou huis te verdwyn? Daar waar dit moeiliker is om ontslae van te raak, en ‘n beter kans het om jou lewe skade te berokken.  

As jy nou aan iets spesifieks gedink het, dan is dit heel moontlik jou slang wat jy gevind het. Hoe vinniger jy vandag ‘n plan maak daarmee, hoe meer seerkry spaar jy jouself in die toekoms.

Ek hoop jy maak die regte besluit, en ek bid vir krag en dapperheid om daarmee te deel.

Rom 16:20  En die God van vrede sal die Satan spoedig onder julle voete verbrysel. Die genade van onse Here Jesus Christus sy met julle! Amen. 

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief