Die lewe is nie meer so eenvoudig soos dit dalk vroeër was nie. Alles beweeg vinnig — soms té vinnig — en dit voel dikwels asof daar nie genoeg ure in die dag is om alles klaar te kry nie. Baie van ons se werksomgewings voel soos ‘n drukpot wat enige oomblik kan ontplof.
Boksafrigter Teddy Atlas gebruik dikwels die volgende stelling wanneer hy oor gevegte praat: “Pressure breaks pipes.” Maak nie saak hoe talentvol ’n vegter is nie — as sy opponent konstant oor 12 rondtes druk op hom plaas, sal daardie aanhoudende druk hom uiteindelik breek.
Selfs die sterkste van ons gee soms in onder druk. Jy tree buite jou karakter op en sê of doen dinge wat jy onder normale omstandighede nooit sou doen nie. Dis menslik. Maar…
Daar word ’n hoër standaard van jou vereis as jy ’n kind van God is. Al voel dit soms onregverdig, word daar van jou verwag om anders op te tree — jy is nou ’n ambassadeur van die Koninkryk van God.
Ek persoonlik ervaar die afgelope tyd geweldige druk by die werk. Soms voel dit of ek met my laaste bietjie krag moet baklei om nie buite myself op te tree nie. Ek het die toetse gevoel kom — en ja, ek het ’n paar keer gedop — maar uiteindelik het ek beheer geneem en deurbraak gekry. Dit is moeilik, maar dit is moontlik.
Dis nie altyd maklik om ’n voorbeeld te wees nie. Om teen die stroom te swem, om anders te wees — dit vra iets van jou. Maar dit is wat van jou verwag word.
Gebruik hierdie moeilike tye om te onthou dat ander ook deur hul eie druk gaan, en om genade te hê vir jou medemens. Onthou ook: dit is nie sonde om versoek te word nie — eers wanneer jy daaraan toegee, raak dit sonde.
Wanneer jy onder druk is, is dit juis dan wanneer jy jou knieë buig en jou hulp van Bo soek. God laat nie toetse toe om jou te breek nie, maar om jou te bou. Soos goud deur vuur gelouter word, word jou geloof gesuiwer in die druk van die lewe. Hou vas aan Hom — Hy sal jou nie los nie.
Efesiërs 4:26-27 (NLV)
Moenie sondig as jy kwaad word nie. Moenie tot die aand toe kwaad bly, en die duiwel so ’n houvas gee nie.





