Kersfees is om die draai, en hier in Namakwaland waar ek bly, is dit so warm dat die kraaie gaap. Geen sneeuwit Kersfees soos in die flieks vir ons nie!
LEES MEER: Hoekom wag jy so lank vir die begeerte van jou hart?
Lank gelede sit ek en my suster op die stoep in Mcdougallsbaai waar ons na ‘n asemrowende sonsondergang, wat hulle die “egg-drop” noem, kyk. Sulke rustige oomblikke maak mos ‘n goeie tyd vir dieper gesprekke. ‘n Vriendin se naam kom in ons geselsies op en ek noem dat sy nou so ‘n oulike persoon is. My suster sê sy hou nie van die vrou nie, want sy was maar ‘n nare mensie op skool. Maar in dieselfde asem erken sy dat sy self darem oor die jare verander het, so dalk kon die vriendin ook so gemaak het. Dit was ‘n baie wyse waarneming van my sus se kant af, en iets wat my bygebly het.
En dit bring my terug by Kersfees en ons geliefdes. Sommige van ons spandeer die tyd saam met ons families of vriende, as ons so bevoorreg is, ander nie. Daar is dalk ‘n rif tussen jou en jou broer, suster of ouers, en julle het jare laas kontak gemaak. Is hierdie nie die tyd om te versoen, om dit dalk nog ‘n probeerslag vir rekonsiliasie te gee nie?
Sedert julle laas gepraat het, het jy dalk al verander? Dalk ‘n bietjie meer volwasse geraak en jou gesindheid teenoor die lewe verander? Nou wat laat jou dink hulle het nie ook nie?
Die lewe is so kort en vlietend, jy weet nie of dit dalk die laaste kans is om ‘n Kersdag saam met iemand te kan deurbring nie. Ondersoek jou hart, laat gaan die pyn of teleurstelling van die verlede en kyk of jy dalk ‘n bietjie genade oor het vir ‘n verlore geliefde. Wie weet, dalk wag hulle vir jou om die eerste skuif te maak en is te trots of skaam om self ‘n poging aan te wend.
Hierdie is ‘n seisoen vir familie, vriende, liefde en genade. So koop die tyd uit terwyl jy nog die kans het.
Mag jy ‘n geseënde Kersfees hê!
Joh 13:34 ‘n Nuwe gebod gee Ek julle, dat julle mekaar moet liefhê; soos Ek julle liefgehad het, moet julle ook mekaar liefhê.





