RUBRIEK: Wat doen jy as jou planne nie uitwerk nie?

Lees ook :

Het jy al ooit vreeslik uitgesien na ‘n wegbreek by die see, of ‘n ander lekker plekkie om te ontspan, en dan ewe skielik werk dinge nie uit nie en dit moet gekanselleer word?

Of jy sien dalk uit na ‘n kuier saam met ‘n vriend of vriendin, en dan kan hulle dit nie maak nie? Ek glo almal van ons het sulke stories. Of dit nou iets in jou privaat lewe, by die werk of in jou bediening is, ons word maar elke nou en dan teleurgestel deur dinge wat buite ons beheer is.

LEES MEER: Wat het ‘n Christen en ‘n salm in gemeen?

As daar nou een groot ding is wat ek oor die afgelope paar jaar oor en oor geleer het, is dat wanneer iets gebeur en ek regtig niks daaraan kan doen nie, ek dit moet laat gaan. En snaaks genoeg, as jy dit aanvaar en laat gaan, en die houding inneem dat dit om ‘n rede is, dan gebeur daar ‘n wonderlike ding!

Eerstens leer jy om vrede te kry in sulke situasies, en tweedens sal jy gewoonlik na die tyd agterkom dat dit definitief beter was dat dit so gebeur het.  

Hier is een klein voorbeeld: Ek het ‘n tyd gelede ‘n vriend genader om by ons maatskappy te kom werk. Ek ken sy huidige situasie en sy gesondheidsuitdagings wat hy ervaar. Hierdie werk sou hom baie beter gepas het as sy huidige, plus hy sou nog ‘n bietjie meer daarvoor betaal word. Na lank se op-en-af het hy die keuse gemaak om die aanbod van die hand te wys, en ek was weer terug waar ek begin het. Maar voordat ek kon gefrustreerd raak met die situasie, het ek besef dat ek hom te veel respekteer as persoon om kwaad te wees oor sy keuse, en ek het aanvaar dat hy nie die regte persoon vir die werk was nie en dat ‘n beter een sou kom.

En sowaar as wraggies kom die regte persoon ‘n paar maande later, en as gevolg van ons behoeftes by die werk wat intussen verander het, sou my vriend glad nie die regte keuse gewees het nie.

So as jy vandag, of iewers voorkant toe, jouself in ‘n soortgelyke situasie bevind, maak asseblief vrede daarmee en kry jou hart en gesindheid in lyn met die wete dat daar iets beter vir jou wag!

Filippense 4:6  Wees oor niks besorg nie, maar laat julle begeertes in alles deur gebed en smeking met danksegging bekend word by God. 

Filippense 4:7  En die vrede van God, wat alle verstand te bowe gaan, sal julle harte en julle sinne bewaar in Christus Jesus. 

Nuusflits.com moedig gesonde debat en vrye meningsuiting aan, maar behou die reg voor om enige kommentaar te verwyder wat haatspraak, laster, persoonlike aanvalle, diskriminasie, vulgêre taal of enige vorm van onwettige, beledigende of onvanpaste inhoud bevat.

Die menings en uitsprake in die kommentaar-afdeling is dié van die individuele skrywers en verteenwoordig nie die standpunte van Nuusflits.com nie.

Deur kommentaar te plaas, aanvaar gebruikers volle verantwoordelikheid vir die inhoud daarvan.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief