GAUTENG. – Die saak teen lt.genl. Dumisani Khumalo, die Misdaadintelligensie-hoof en ses ander beskuldigdes is tot 3 September uitgestel. Dit is uitgestel sodat die Nasionale Direkteur van Openbare Vervolging die verteenwoordiging kan oorweeg wat deur die beskuldigdes ingedien is.
Henry Mamothame, IDAC-woordvoerder, sê Khumalo en vyf mede-beskuldigdes het die verteenwoordiging op die nippertjie ingedien in die week toe die saak na ‘n hoër hof vir verhoor verwys sou word. Die beskuldigdes staan op aanklagte van bedrog en korrupsie tereg, nadat hulle glo ‘n ongekwalifiseerde persoon onregmatig binne die Misdaadintelligensie-afdeling van die polisie aangestel het. Die ondersoek is afgehandel en die NVG is gereed om die saak in die hof te stel.
Khumalo, genl.maj. Nosipho Precious Madondo, genl.maj. Josias Lekalakala, genl.maj. Zwelithini Gabela, brig. Phindile Ncube en brig. Dineo Mokwele is voorheen elk op R10 000 borgtog vrygelaat. Hulle is beveel om geen perseel van misdaadintelligensie te betree nie. Genl.maj. Philani Lushaba het in aanhouding gebly, aangesien sy saak oor ’n skedule 6-misdaad is. Die hangende saak teen hom is nie in sy beëdigde verklaring vir borgtogaansoek vermeld nie.





