GAUTENG. – Die nasionale vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat teen korrupsie (IDAC) het die Pretoria-hooggeregshof genader om ’n beslissing van ’n landdros te hersien wat hom van ’n saak teen lt.genl. Dumisani Khumalo en twee ander weens beweringe tydens die Madlanga-kommissie se ondersoek onttrek het.
Luidens ‘n verklaring deur Henry Mamothame, eenheidswoordvoerder, het die landdros sy onttrekking gebaseer op bewerings van korrupsie teen die regbank wat tydens die Madlanga-kommissie gemaak is. Mamothame sê hierdie bewerings het geen verband met die saak wat voor die hof is nie en die landdros moes hom nie onttrek het nie.
Khumalo, genl.maj. Josias Lekalakala en genl.maj. Nosipho Madondo het vroeër aansoek gedoen om hul borgtogvoorwaardes te laat verslap. Hulle en vier ander is in hegtenis geneem oor aanklagte van bedrog en korrupsie wat verband hou met die aanstelling van ’n ongeskikte burgerlike by die misdaadintelligensie-afdeling van die polisie. Die staat het die versoek teengestaan.
Die hof sal oor die borgtogaansoek besluit nadat die eenheid se hersieningsaansoek afgehandel is.
Die polisie-offissiere word daarvan beskuldig dat hulle betrokke was by die onregmatige aanstelling van ’n burgerlike in ’n senior pos in die polisie, ten spyte daarvan dat die persoon glo nie vir die pos gekwalifiseer was nie. Hulle is deur die nasionale vervolgingsgesag se ondersoekdirektoraat teen korrupsie (IDAC) in hegtenis geneem. Sommige van die beskuldigdes is deur die hof met voorwaardes op borgtog vrygelaat.
Lees ook meer hier onder:




