GAUTENG. – Die saak teen Vusimuzi “Cat” Matlala is in die Pretoria-landdroshof tot 13 Mei 2026 uitgestel, sodat verdere konsultasies afgehandel kan word en hy instruksies aan sy prokureur kan gee.
Henry Mamothame, woordvoerder van die NVG se ondersoekdirektoraat teen korrupsie, sê die hof het ook die staat se versoek toegestaan dat Matlala by Kgosi Mampuru- korrektiewe sentrum aangehou bly totdat die konsultasies afgehandel is. Matlala sal saam met nog 15 beskuldigdes teregstaan op aanklagte van korrupsie, bedrog en oortredings van die wet op openbare finansiële bestuur.
Die aanklagte hou verband met die beweerde onreëlmatige toekenning van ’n kontrak van sowat R228 miljoen aan die maatskappy Medicare 24, wat glo aan Matlala behoort.
Nuusflits het voorheen berig altesaam 12 senior polisiebeamptes en ’n maatskappydirekteur is in hegtenis geneem in verband met beweerde korrupsie in die toeken van ’n tender van R360 miljoen aan Medicare 24. Die beamptes is kapt. Brian Neville, brig. Rachel Matjeng, Alpheus Thembinkosi Ngema, Patrick Nethengwe, Kirsty Jonker, Petunia Reabetsoe Lenono en Onica Ofentse Tlhoale, asook genl.maj. Busisiwe Precious Temba, kol. Nonjabulo Nomfundo Mngadi, Anton Paulsen en Natsenge Johannes Monyai.
Die departement van openbare werke en infrastruktuur het ’n huurkontrak met Medicare 24 Tshwane-distrik beëindig, ná ernstige bewerings oor hoe die kontrak toegeken is. Dit is ‘n maatskappy wat glo aan Vusimuzi “Cat” Matlala verbind word en hou verband met ’n hospitaalfasiliteit in Pretoria-Wes.
’n Interne ondersoek het bevind dat die huurkontrak nie regmatig in werking kon tree nie, aangesien die betrokke hospitaalfasiliteit nooit deur die polisie as surplus verklaar is nie. Ingevolge die Wet op Bestuur van Regerings- Onroerende Bates van 2007 bly die SAPD die aangewese gebruiker van die eiendom. Lees meer hier onder:





