OOS-KAAP. – Neal Ah-Tow, die sakeman wat glo op 1 Maart buite sy viswinkel in Sidwell ontvoer is, is Vrydagaand omstreeks 21:30 vrygelaat en met sy familie herenig.
Kapt. Yolisa Mgolodela sê die sakeman is deur ‘n onbekende persoon van Marikina in Despatch gehelp wat hom na Mount Road-polisiestasie geneem het.
Volgens Ah Tow is hy deur verdagtes op ‘n onbekende plek afgelaai waar hy verdwaal en net rondgestap het om hulp te kry. Dit is waar die weldoener hom gekry en hulp aangebied het.
Mgolodela sê Ah Tow is aangerand, moeg en honger. Hy is deur sy familiedokter gesien en met sy familie herenig.
Geen losprys is tydens sy beweerde ontvoering betaal nie.
Nuusflits het op 4 Maart soos volg berig:
Neal Ah-Tow (58) is steeds soek sedert hy glo Vrydagoggend omstreeks 07:15 buite sy viswinkel in Crichtonstraat in Sidwell ontvoer is.
Volgens kol. Priscilla Naidu het vyf gewapende mans hom in ‘n silwerkleurige Chev Cruz geboender en met hom weggejaag toe hy sy winkel wou oopmaak.
Ah-Tow is steeds vermis. Sy ontvoering word deur die polisie ondersoek.
Enigiemand met inligting oor waar hy hom bevind, word versoek om speur.AO Errol Kleinhans van Algoa Park-polisiestasie by 083 243 4567 te bel.





