Die Suid-Afrikaanse Nasionale Taxiraad (Santaco) en sy geaffilieerde liggaam, Samtea – die Suid-Afrikaanse vereniging vir meter- en e-taxi’s (bv. Uber) – het pas begin met ’n belangrike samewerkingsinisiatief om te verseker dat die tradisionele taxi-industrie en e-bestel-platforms in harmonie kan funksioneer.
Mmatshikhidi Rebecca Phala, Santaco se nasionale woordvoerder, sê in ‘n verklaring die inisiatief volg op die onlangse ondertekening van regeringsregulasies wat die e-taxi-sektor amptelik as ’n wettige vorm van openbare vervoer in Suid-Afrika erken. ’n Vergadering is verlede week gehou waartydens direkte gesprekke met vooraanstaande e-taxi-maatskappye soos Bolt, Teksi Ride en Shuma Ride gevoer is. Die doel is om ’n gedeelde begrip te bou en goeie werksverhoudings tussen die twee sektore te bevorder.
Alle teenwoordiges het ooreengekom om saam te werk om die industrie te bevorder. ’n Sleutelpunt wat bespreek is, is bestuurder- en passasiersveiligheid, veral in die lig van nuwe regulasies wat die gebruik van paniekknoppies en ander veiligheidsmeganismes beklemtoon. Die toep(app)-maatskappye het hul verbintenis uitgespreek om saam te werk om veiligheidsstandaarde oor alle platforms te verbeter.
Die vergadering het ook die weg vir toekomstige inisiatiewe gebaan, insluitend die ondersoek van ondernemingsontwikkeling vir e-taxi-operateurs en bestuurders, die bevordering van e-taxidienste in die formaliseringsoogmerke van die 2020 Taxi Lekgotla, asook die oprigting van ’n werkskomitee om samewerking en implementering te lei.
Hierdie ontmoeting is die eerste van sy soort en stel ’n positiewe toon vir toekomstige samewerking. Santaco en Samtea hoop om meer e-taxi-maatskappye aan boord te bring om te verseker dat alle rolspelers in die sektor saamstem oor die transformasiedoelwitte van die openbare vervoerbedryf.





