GAUTENG. – Shaune Mogaila, sokkerspeler, wat aangekla word van strafbare manslag nadat Gomolemo Mavimbela (9) in ’n motorongeluk gesterf het, het Donderdag (6 November) in die Tembisa-landdroshof verskyn. Gomolemo se pa en tante is deur die polisie versoek om die hof te verlaat, terwyl Mogaila se ondersteuners toegelaat is om te bly. Thano Khethiwa, die seun van Mavimbela se vriendin, is ook tydens hierdie botsing kritiek beseer.
Barry Bateman, woordvoerder vir AfriForum se privaatvervolgingseenheid, sê in ‘n verklaring die eenheid verteenwoordig Gomolemo se familie in hierdie saak en het Tshepo Kekana (slagoffer se vader) en Florah Mathipa (slagoffer se tante) gister na die hof vergesel en gesien hoe die SAPD hulle versoek om die hof te verlaat terwyl Mogaila se ondersteuners toegelaat is om te bly. Lede van die privaatvervolgingseenheid is ook gevra om die hof te verlaat, maar hulle het die versoek verwerp en gebly om sodoende terugvoer aan die familie te kon gee. “Dit is onregverdig dat die beskuldigde sy ondersteuners mag hê, maar die slagoffer se familie uitgesluit word.”
Gomolemo is in Oktober 2024 dood toe Mogaila se voertuig glo met haar ma se motor gebots het. Mogaila, wat vir Sekhukhune United sokker speel, het volgens die polisie van die toneel gevlug en hom later oorgegee. Hy is op R20 000 borgtog op ‘n saak van strafbare manslag en roekelose en nalatige bestuur vrygelaat. Die saak is na die streekhof oorgeplaas en Mogaila sal weer op 17 November voorkom. Bateman sê volgens Kekana is hierdie nie die eerste keer wat hy en sy familie so by die Tembisa-landdroshof behandel word nie. “Dit is nie goed nie, want ek is die slagoffer van ’n misdaad en ek word nie in die hof toegelaat nie. Hulle het weer die saak uitgestel, maar as daar nie iemand in die hof was nie, hoe moes ek dit dan geweet het? Ek wens die reg kan sy gang gaan en dat ons kan afsluiting kry oor hierdie saak,” sê Kekana.
Bateman sê voorts die sersant wat Gomolemo se familie uit die hof gestuur het, het sy optrede verduidelik en gesê dat hy in beheer was en dat dit die wyse is waarop hy toegang tot die hof bestuur. “Die Tembisa-landdroshof blyk geslote te wees vir die publiek met slegs die beskuldigde, hul ondersteuners, en regsverteenwoordigers wat toegelaat word wanneer hulle sake aangehoor word. Die polisie se optrede beteken dus dat alle sake wat veronderstel is om in ’n ope hof aangehoor te word nou in camera moet plaasvind. Dit is kommerwekkend dat hierdie reëling die stilswyende goedkeuring van ander rolspelers in die strafregstelsel dra.”
Druk hier om meer te lees.






