GAUTENG. ‘n Seun (10) in gr. 5 by Laerskool Reagile is Maandag in ‘n fratsongeluk dood nadat ‘n doelpaal op die skoolterrein tydens pouse op hom geval het.
Steve Mabona, woordvoerder van die Gautengse departement van onderwys, sê die voorval het op die skoolterrein in die Winnie Mandela-gebied van Tembisa plaasgevind waar ‘n groep leerlinge glo naby die sokkerpale gespeel het. Die doelpaal het glo skielik omgeval en die seun is noodlottig beseer. Paramedici is onmiddellik ontbied en het binne sowat 20 minute opgedaag.
Ondanks pogings om sy lewe te red, is die seun op die toneel dood verklaar. Mabona bevestig die polisie ondersoek die presiese omstandighede van die tragedie, terwyl die onderwysdepartement ook ’n interne ondersoek geloods het. Die departement het ’n psigomaatskaplike ondersteuningspan na die skool gestuur om berading en ondersteuning aan leerlinge, opvoeders en die bedroefde familie te bied.
Matome Chiloane, LUR vir onderwys in Gauteng, het sy innige meegevoel met die familie, skoolgemeenskap en almal wat geraak word, uitgespreek.





