Sewe vir Kimberley-sakeman se moord gevonnis

Lees ook :

Foto's: NVG

NOORD-KAAP. – Sewe verdagtes, wat in Kimberley, Mpumalanga en KwaZulu-Natal gearresteer is, is op verskeie aanklagte deur die hooggeregshof skuldig bevind en gevonnis nadat Piet Els (86), ‘n bekende sakeman van Kimberley, op 24 Januarie 2018 brutaal op die plaas Carter Ridge aangeval en 111 dae later aan sy beserings gesterf het.

Mojalefa Senokoatsane, woordvoerder vir die NVG, sê daar is by die huis van Piet Els ingebreek waar hy en sy metgesel (67) aangerand en gemartel is. Die beskuldigdes het geld, goue munte, diamante, juwele, kameras, vuurwapens en Els se voertuig gebuit. Els het aan sy wonde gesterf.

Morapedi Rankali (32), Motlalentwa Qhautse (42), Lizbeth Ndlala (61), Themba Lawrence Maja (63), Oupa Jeffrey Mahomane (49), Samson Sam Mbokane (68), en Jabulani Wilson Zuma (67) is op aanklagte van onder meer moord, inbraak met die doel om te roof, roof met verswarende omstandighede, ‘n seksuele misdaad en die besit van ‘n ongelisensieerde vuurwapen gevonnis.

Jabulani Zuma het drie tradisionele genesers en nog ‘n persoon gekry om ‘n rooftog uit te voer en het hulle ook vervoer, waarna daar by Lesotho-burgers aangesluit is. Die tradisionele genesers moes glo ná die misdaad uitgevoer is ‘n reinigingsritueel op die verdagtes doen. Zuma het gesê hy is die seun van Jacob Zuma, die voormalige president, en is net soos sy pa vir misdade wat hy nie gepleeg het nie, vervolg. Senokoatsane sê die hof het wat hy sê, verwerp.

Adv. Johannes Cloete, die direkteur van openbare vervolging, het voorgehou die verdagtes het met voorbedagte rade opgetree. Die misdaad was nie ‘n geleentheidsmisdaad nie, maar ‘n noukeurig beplande, koelbloedige aanval. Daarom vereis dit die hardste moontlik straf, om geregtigheid vir Piet Els se geliefdes te kry.

Rankali is 3 jaar vir diefstal gevonnis, wat vir 5 jaar opgeskort is, aangesien hy reeds 2 jaar en 3 maande tronkstraf uitgedien het voordat hy borg ontvang het. Qhautse is vir inbraak met die doel om te roof 20 jaar, vir seksuele aanranding 5 jaar en moord tot lewenslange tronkstraf, waarvan die vonisse gelyktydig uitgedien word, gevonnis. Ndlala, ‘n tradisionele geneser, is vir inbraak met die doel om te roof en roof met verswarende omstandighede 10 jaar tronkstraf opgelê. Maja, ook ‘n tradisionele geneser, is vir huisbraak met die doel om te roof en roof met verswarende omstandighede ook tot 10 jaar tronkstraf gevonnis. Mahomane is vir roof met verswarende omstandighede tot 20 jaar, seksuele aanranding 5 jaar, en moord lewenslank tronk toe gestuur, waarvan die vonnisse gelyktydig uitgedien word. Sam Mbokane, nog ‘n tradisionele geneser, is vir roof met verswarende omstandighede en inbraak met die doel om ‘n roof te pleeg tot 10 jaar tronkstraf gevonnis. Zuma is vir inbraak met die doel om te roof met verswarende omstandighede 20 jaar tronkstraf opgelê.

Die NVG prys adv. Johannes Cloete en die SAPD vir die suksesvolle ondersoek en afhandeling van die saak.

Lt.kol. Sergio Kock sê lt.genl. Koliswa Otola verwelkom die vonnisse wat die beskuldigdes Dinsdag opgelê is. Daar is omstreeks 05:00 by die huis ingebreek, waarna Els traumatiese kopbeserings weens brutale aanranding en marteling opgedoen het. Els se metgesel (67) is fisies en seksueel aangerand. Kock sê daar is met waardevolle artikels, wat Krugerrande insluit, in Els se Mercedes-Benz van die toneel gevlug. Tydens die opvolg van inligting is van die items en die voertuig teruggevind. Die verdagtes is gedurende 2018 en 2020 in verskillende provinsies gearresteer.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App

Teken in op ons nuusbrief