KWAZULU-NATAL. – ‘n Busbestuurder is dood en die kondukteur en ‘n vrou wat vyf maande swanger is, het skietwonde opgedoen nadat twee verdagtes Dinsdagaand in Redcliffe in ‘n bus geklim en lukraak losgebrand het.
Reaction Unit South Africa (Rusa) sê dié diens het ná 18:00 saam met Verulam-polisie se misdaadvoorkomingseenheid op die toneel aangekom. Hulle is meegedeel twee verdagtes het op die hoek van Orchid- en Redclifferylaan op die bus geklim, vuurwapens uitgehaal, willekeurig begin skiet en daarna te voet gevlug. Die busbestuurder en kondukteur is voor die aankoms van die reaksiebeamptes en die polisie na die hospitaal gehaas. Die bestuurder is kort ná sy aankoms by die mediese fasiliteit dood verklaar. Die omvang van die kondukteur se beserings is onbekend.
’n Swanger vrou (26) is met ‘n skietwond deur haar regterbobeen aan die kant van die pad aangetref. Sy is op die toneel gestabiliseer en na die hospitaal vervoer.
Die motief vir die skietvoorval is onbekend. Geen waardevolle items is deur die verdagtes gesteel nie.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





