GAZA. – Hamas het gesê die samesprekings oor die tweede fase van die skietstilstand sal opgeskort wees totdat Israel die gevangenes vrylaat soos ingestem.
Lees ook: Israel beweer Hamas het nie Shiri Bibas se liggaam oorhandig nie
Israel het Sondag die vrylating van sowat 600 gevangenes uitgestel na Hamas ses lewendige gyselaars en vier liggame aan hulle oorhandig het. Dié stap is geneem na Israel beweer het Hamas het die skietstilstandooreenkoms verskeie kere oortree, deur onder andere “vernederende” oorhandigingseremonies.
Hamas het Saterdag ’n video vrygestel van twee gyselaars in ’n voertuig wat pleit om ook vrygelaat te word toe ses ander hulle vryheid kry. Daar was alreeds spanning met die vrystelling van die video ná Hamas Donderdag die liggaam van ’n Palestynse vrou in plaas van die liggaam van Shiri Bibas aan Israel oorhandig het. Die regte liggaam is later Donderdag oorhandig. Israel het ook gesê ’n nadoodse ondersoek het gewys haar seuns, Ariel en Kfir, is deur Hamas met “hulle kaal hande” vermoor en dat hulle nie dood is in ’n Israeliese lugaanval soos Hamas beweer het nie.
Die Palestynse gevangenes was reeds op busse om na Gaza geneem te word toe die eerste minister van Israel, Benjamin Netanyahu, beveel het dat hulle aangehou word oor Hamas se aksies.
Bronne: BBC, FBC News, First Post
Lees ook: Israel beweer Hamas het nie Shiri Bibas se liggaam oorhandig nie





