OOS-KAAP. – Twee onderwyseresse is dood en ’n derde onderwyseres is in ’n kritieke toestand in die hospitaal ná ’n skietvoorval Donderdag by Laerskool Ntabankulu. Die vermeende skieter, ‘n voormalige onderwyser, het op die toneel selfdood gepleeg.
Luidens ‘n verklaring van polisiewoordvoerder, brig. Nobuntu Gantana, was die voormalige onderwyser op borgtog uit nadat hy in 2023 ná seksuele aanrandingsklagte ontslaan is. Hy het glo omstreeks 12:00 deur die skool se omheining gebreek en na die kombuis beweeg waar hy op die vroue losgebrand het. Een onderwyseres is op die toneel dood verklaar. Twee ander is beseer en na ‘n hospitaal geneem is, waar een aan haar beserings beswyk het. Die derde onderwyseres verkeer steeds in ’n kritieke toestand.
Die verdagte het homself ná die aanval geskiet en is op die toneel dood verklaar.
Twee aanklagte van moord, een aanklag van poging tot moord en ‘n geregtelike doodsondersoek word deur die polisie ondersoek.





