NOORD-KAAP. – ‘n Slagoffer (45) het op 3 November 2021 geweier om met Edward Emmauel Gideon Mastas (24) te trou, waarna hy haar gewurg en nog misdade gepleeg het. Mastas is tot nege jaar direkte tronkstraf gevonnis.
Sers. Molefi Shemane sê tydens die huishoudelike geweld het Mastas die slagoffer dorp toe gevat en geboelie om ‘n dokument by die departement van binnelandse sake te teken. Hy wou met haar trou, maar sy het geweier, waarop Mastas haar gewurg het. Die slagoffer het van Mastas ontsnap en is na haar huis in Roodepan waar sy by haar dogter en tante (51) aangesluit het.
Mastas is soontoe om sy klere te gaan haal. In die huis het hy die slagoffer se tante (51) verskeie kere met ‘n mes gesteek. Daarna het hy vernsters gebreek en die slagoffer se klere aan die brand gesteek. Die polisie het hom in hegtenis geneem waar hy onder ‘n bed weggekruip het.
Mastas het op 5 November in die hof verskyn en is vir 30 dae waarneming na ‘n psigiatriese fasiliteit gestuur. Hy is bevoeg verklaar om verhoor te word.
Die Kimberley-streekhof het Mastas op aanklagte van aanranding met die doel om ernstig te beseer en opsetlike saakbeskadiging tot nege jaar direkte tronkstraf gevonnis.
Die volgende wenke kan handig te pas kom in die geval van huishoudelike geweld:
Familielede of vriende kan ‘n afskrif van ‘n beskermingsbevel en lasbrief vir arrestasie as voorsorgmaatreël by hulle hou. Slagoffers word aangemoedig om konfrontasie in ‘n kamer met een uitgang en potensiële wapens te vermy. ‘n Lys met noodnommers moet byderhand gehou word. Dit is wys om ‘n ekstra stel sleutels vir die huis of motor te hê. Hou altyd geld vir ‘n taxi of bus vir nood op ‘n veilige plek. ‘n Ekstra stel klere vir die slagoffer en kinders kan in ‘n veilige plek of by bure gehou word, indien daar uit ‘n situasie ontsnap moet word. Die slagoffer moet ook seker maak om in besit van alle noodsaaklike dokumente, identifikasie, mediese kaarte en spaar- sowel as kredietkaarte te wees.





