Solidariteit begin regsoptrede oor die heropening van kleuterskole

Lees ook :

Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers het saam met die Skoleondersteuningsentrum (SOS) met regsoptrede teen die departement van maatskaplike ontwikkeling en die departement van samewerkende regering en tradisionele sake begin.

In ʼn aanmaningskrywe aan die minister van maatskaplike ontwikkeling, Lindiwe Zulu en die minister van samewerkende regering, dr. Nkosazana Dlamini Zuma, word geëis dat duidelike regulasies bekend gemaak moet word om die opening van onafhanklike en privaat kleuterskole te bepaal. As die betrokke ministers nie daarop sou reageer nie, sal dit gevolg word deur ʼn dringende aansoek by die Pretoriase hooggeregshof.

Bron van onsekerheid

Melanie Buys, hoof van ontwikkeling by die SOS, sê gedurende die inperkingstydperk was die heropening van skole en privaat kleuterskole deurentyd ʼn bron van groot onsekerheid vir ouers, leerlinge en onderwysers. Regulasies maak duidelik voorsiening vir die infasering van Graad R-leerlinge en leerlinge in die laer grade. Hierdie regulasies is egter net van toepassing op skole wat by die departement van onderwys geregistreer is en sluit met ander woorde privaat kleuterskole, wat onder die departement van maatskaplike ontwikkeling val, uit.”

Die beroepsgilde en die SOS is van mening dat privaat kleuterskole ook toegelaat moet word om op 6 Julie, saam met ander kleuterskole, hul onderrig te hervat. Kinders van alle ouderdomme het ʼn reg op basiese onderrig. Die weiering dat hierdie skole open, ontneem kinders van hierdie reg.

Personeel moet ‘n inkomste verdien

“Ons is baie bekommerd oor twee kwessies,” sê Marisa Engelbrecht, sektorhoof by Solidariteit se Beroepsgilde vir Maatskaplike Werkers. Hierdie toedrag van sake ontneem nie net die kinders van hul regte nie, maar ook die personeel verbonde aan die skole,” het Engelbrecht aangedui. “Die personeel se reg om te werk en ʼn inkomste te verdien deur die diens wat hulle lewer, word hulle ontneem. Die diens wat hulle lewer, is van die uiterste belang vir die ontwikkeling van jong kinders wat baat by die opvoedkundige stimulasie wat hulle by hierdie skole ontvang. Om hulle dít te ontsê, kan verreikende gevolge vir hul skoolloopbane inhou.”

Die departement van maatskaplike ontwikkeling se versuim om enige planne of riglyne bekend te maak, vererger ook die maatskaplike nood. Vir duisende kleuters is hul skool ook hul bron van oorlewing. Baie van hulle is deel van voedingsprojekte by kleuterskole waar hulle hul enigste kos van die dag kry. In baie gevalle is die huis ook nie noodwendig ʼn veilige tuiste nie en is die wakende oog van ʼn juffrou nodig om maatskaplike kwessies te identifiseer. Die departement ontsê kinders hierdie basiese regte.
Talle ouers van jong kinders het tydens vlak 3 teruggekeer werk toe. In hierdie opsig lewer kleuterskole ʼn noodsaaklike diens aan die ouers wat die versorging van hul kinders gedurende die dag betref. Dit is daarom van die uiterste belang dat hierdie skole wel toegelaat moet word om te heropen.

Skoolondering moet spoedig hervat

Volgens Buys is daar geen rede waarom kinders nie na privaat kleuterskole kan terugkeer nie. “Met die nodige voorkomende maatreëls wat ingestel is en die verantwoordelike infasering van kinders kan kleuterskole, soos enige ander skool, voortgaan met onderrig,” voer Buys aan.

Die Suid-Afrikaanse Pediatriese Vereniging het ook ten sterkste aanbeveel dat skoolonderrig so gou as moontlik hervat. Die SOS deel dié vereniging se siening dat die skade aan kinders se opvoedkundige ontwikkeling terwyl skole toe bly, veel groter is as die risiko dat kinders moontlik Covid-19 kan opdoen of oordra indien hulle (veilig) terugkeer skool toe.

LEES VERDER HIER OP FIND IT.

Detecting your platform...

Klik hier om ons toep af te laai Nuusflits App