GAUTENG. – ‘n Spesiale taakspan is op 11 November 2025 ingestel om bewyse wat by die Madlanga-kommissie en die ad hoc-komitee gelei is, noukeurig te monitor. Die taakspan sal polisielede wat by die kommissie genoem word, identifiseer, waarna interne ondersoeke ingestel sal word.
Genl. Fannie Masemola het Vrydag by Tshedimosetso House (regeringskommunikasie- en inligtingstelsel – GCIS), in Pretoria, ’n media-inligtingsessie gehou en gesê die span se mandaat sluit al die gevalle in wat vanaf die kommissie verwys is, insluitend dié van die nege EMPD-lede. Wanneer die taakspan polisielede identifiseer, sal daar waar voldoende bewyse is, interne dissiplinêre ondersoeke volgens die polisie se regulasies ingestel word. Volgens die kommissaris is betrokke lede reeds in kennis gestel van ondersoeke na hul beweerde wanoptrede. Twee senior beamptes is geskors en vier ander het kennisgewings van beoogde skorsing ontvang. Optrede in verband met ander lede word nog oorweeg. Omdat die ondersoeke nog steeds aan die gang is, word geen name tans bekendgemaak nie.
Opod se aanbeveling oor die moord op April 2022 op Emmanuel Mbhense is ook ontvang en die polisie het alreeds sy eie ondersoek geloods, wat twee polisiebeamptes wat na bewering op die toneel was, impliseer. Masemola bevestig sommige van die sake was reeds deur ander eenhede, soos onder meer die politiekemoorde-taakspan, ondersoek. ’n Opdatering is van lt.genl. Tommy Mthombeni, die Gautengse provinsiale polisiekommissaris, ontvang oor die vordering van ondersoeke na die moord op “Getuie D” en die aanval op Wiandré Pretorius. Pretorius het intussen die naweek glo weens selfdood gesterf. Hy was volgens SABC News ‘n persoon van belang in die moord op Getuie D, oftewel Marius van der Merwe, wat gedurende Desember voor sy gesin by sy huis in Brakpan doodgeskiet is. Pretorius se polisiemeisie, sers. Juan-Maré Eksteen, se naam was blykbaar ook volgens Yusuf Abramjee deur Van der Merwe voor die kommissie genoem.
Masemola het voorts sy vertroue uitgespreek in die span se vermoë om die ondersoeke suksesvol af te handel. Die taakspan bestaan uit ervare speurders, forensiese kenners, misdaadintelligensie-analiste, tesame met prokureurs van die nasionale vervolgingsgesag en sal toesien dat ondersoeke vinnig en volgens regsprosedures afgehandel word. Adv. Andy Mothibi het die nasionale vervolgingsgesag se rol in die ondersoeke toegelig.





