Bek-en-klouseer is tydens die 2026-staatsrede as ’n nasionale ramp verklaar nadat een van die ergste uitbrekings nóg die land se beesbedryf getref het. Die siekte het reeds tot ‘n uitvoerverbod en handelsbeperkings gelei, wat ’n direkte finansiële hou vir boere en die landbou-ekonomie beteken.
Volgens president Cyril Ramaphosa moet die land se hele nasionale kudde van sowat 14 miljoen beeste ingeënt word. Dit beteken 28 miljoen entstowwe moet oor die volgende 12 maande toegedien word. Die staat sal die aankoop van die entstof sentraal hanteer om te verseker dit is geskik vir die spesifieke virusstam in Suid-Afrika. Die regering sê kommersiële, private en kommunale boere sal dringende toegang tot die entstof kry.
’n Taakspan van boere-organisasies en kundiges is saam met die minister van landbou aangestel en sal maandeliks oor vordering verslag doen. Die uitbreking raak nie net boere nie, maar het breër ekonomiese gevolge. Uitvoerbeperkings kan vleispryse, werksgeleenthede in die landbou en verwante bedrywe, asook Suid-Afrika se handelsbetrekkinge, beïnvloed.
Met die rampverklaring kan die staat alle nodige hulpbronne mobiliseer om die verspreiding van die siekte te beperk en verdere skade aan die ekonomie voorkom.





