Die Stad Kaapstad het aangekondig dat die Slag van Muizenberg-terrein in Heritage Western Cape (HWC) se provinsiale staatskoerant gelys, en as ’n Provinsiale Erfenisterrein (PHS) verklaar is.
Die Stad se Omgewingsbestuursdepartement het in 2024 ’n Artikel 27-nominasie ingevolge die Nasionale Erfenishulpbronnewet by HWC ingedien. Op 27 Junie 2025 het die HWC-raad die nominasie goedgekeur. Die formele beskerming is daarna amptelik op 27 Maart 2026 in die staatskoerant gepubliseer.
Lees ook: Opknap van Muizenberg-strandfront en seewal vorder goed
Burgemeesterskomiteelid vir Ruimtelike Beplanning en Omgewing, Eddie Andrews sê dat, “die proklamasie van die Slag van Muizenberg-terrein is ’n belangrike mylpaal in die Stad se pogings om die onvervangbare erfenis en kulturele landskappe van ons groeiende stad te beskerm.”
Andrews sê voorts dat dit ’n kulturele landskap met verskeie lae van betekenis is.
Die oorblyfsels van die klipmure en borswerings van die Slag van Muizenberg-konflik tussen die Nederlanders en die Britte in 1795 is steeds sigbaar. Die Nederlandse verdedigingswerke is onder toesig van Louis Michel Thibault, destydse militêre ingenieur en later ’n prominente argitek en bouer van die 18de eeu in Kaapstad, opgerig.
Die Korps Pandoeren, afkomstig uit die Kaapse bruin gemeenskap, waarvan baie uit die Morawiese Sending by Genadendal was het ’n kritieke rol in die geveg gespeel.
Die slag was direk verbind aan breër internasionale konflikte tussen die Nederlanders, Britte en Franse, en was ’n belangrike gebeurtenis in die geskiedenis van Suid-Afrika wat gelei het tot die eerste Britse besetting van die Kaap.
Andrews sê ten slotte, “bewyse van skulpmiddelmateriaal en die ligging daarvan aan die Valsbaai-kuslyn dui daarop dat die terrein deur inheemse groepe gebruik is lank voordat Muizenberg in die middel van die 17de eeu deur die Nederlanders beset is.”
Bron: Stad Kaapstad





