WES-KAAP. – Twee vroulike stappers is Vrydag van die Otterwandelpad by die Bloukrans-riviermond in die see meegesleur. Hulle kon hul rugsakke gebruik om te dryf en is gered nadat hulle rotse bereik het.
Charles Hutchins van die NSRI sê tydens die reddingspoging het dit hooggety geraak en die windspoed was 30 knope.
Hulp is omstreeks 07:40 van die NSRI ontbied na ‘n stapper in die groep ‘n krans uitgeklim het vir ‘n selfoonsein en SANParke gebel het. Reddingswemmers en veldwagters was by die redding betrokke.
Dit blyk asof die stappers die Bloukransrivier op die wandelpad oorgesteek het en die vroue toe deur die uitgaande stroom meegesleur is. Met behulp van die rugsakke het hulle die kuslyn in ‘n sloot by rotse bereik. Hulle kon egter nie die steil krans uitklim of die pad deur die water bereik nie. Hoogwater het begin toeneem. Reddingswemmers en veldwagters kon die twee vasgekeerde swemmers te hulp snel.
Die veiligste reddingspoging was vir reddingswemmers om met die vroue die see in te swem en dan aan boord van ‘n reddingstuig te gaan. Die vroue is op drywende toestelle geplaas en die reddingswemmers het beurtelings met hulle deur die sloot na die oewer aan die ander kant geswem. Ongeveer 25 minute later was die rotse waar beide vasgekeer was onder water.
Die vroue was nie beseer nie en het met hul staptog voortgegaan.