ALASKA. – ’n Suid-Afrikaner, Ntando Sogoni (35) is in hegtenis geneem nadat hy glo drie mense aan boord die Norwegian Encore-passasiersboot met ’n skêr gesteek het.
Hy het Saterdag in Seattle op die skip geklim, waarna hy vir ’n week lank daarop onderweg na Alaska sou werk. Volgens owerhede op die skip het hy Sondagaand vreemd begin optree en ’n reddingsboot in die water wes van Vancouver-eiland probeer kry. Hy is na die mediese afdeling vergesel.
Hy het tydens sy mediese assessering glo baie aggressief begin optree en wou van die skip afklim. Maandagoggend vroeg het Sogoni na bewering twee sekuriteitswagte gesteek toe hulle hom onder bedwang wou bring. Daarna het hy glo nog ’n 75-jarige vrou van die VSA wat in die mediese afdeling was, gesteek.
Hy is in die skip se tronk aangehou tot hy Dinsdag in Juneau vir aanranding in hegtenis geneem is. Hy word deur ’n maksimum van 10 jaar tronkstraf in die gesig gestaar indien hy skuldig bevind word.
Bronne: NBC, The Independent





