MPUMALANGA. – Veiligheidswagte het Sondag ‘n poging tot ‘n transitoroof op die N4, naby die Kanyamazane-afrit, met oplettendheid en bestuursvernuf gefnuik.
Brig. Donald Mdhluli sê POLSEC-veiligheidswagte was in ‘n kontantwa op die N4 vanaf Malelane na Nelspruit (Mbombela) onderweg. Na bewering het verskeie voertuie op die pad verskyn. Dit sluit ‘n gryskleurige Toyota Fortuner en ‘n wit Ford Ranger, beide met Gauteng-registrasienommers, asook ‘n Toyota GD-6 en ‘n wit Mercedes-Benz, in. Die Mercedes het teen ‘n hoë snelheid van agter gekom en die bestuurder het merkbaar vreemd bestuur. Die bestuurder van die kontantwa het dadelik in die aankomende verkeersbaan inbeweeg en die Mercedes het slegs skrape aan die kontantwa veroorsaak.
Mdhluli verduidelik die kontantwa met die Ranger-bakkie op sy hakke het teen ‘n hoë snelheid tot by sy bestemming in Nelspruit gery. Die verdagte voertuie kon nie die kontantwa inhaal nie. In nog ‘n aangemelde insident is nog ‘n kontantwa deur ‘n voertuig gevolg, maar niks het tydens die insident gebeur nie.
Met die polisie se aankoms op die N4 by die afrit van Kanyamazane is ‘n Mercedes-Benz C Class, sonder registrasieplate, verlate en in vlamme gehul, aangetref.
Enigiemand met relevante inligting van die verdagtes en voertuie word gevra om na vore te kom om die polisie in hulle ondersoek te help.





