GAUTENG. – Sphiwe Kleinbooy Mahlangu (45) van Soshanguve, Thomas Baloi (41) van Pretoria-Noord en Daniel Kubayi (50) van Hammanskraal, amptenare van die Stad Tshwane, het Woensdag op ’n aanklag van diefstal van noodsaaklike infrastruktuur – ‘n transformator ter waarde van R7 miljoen – in die hof verskyn. Die saak is vir ‘n skedule 5-borgtogaansoek tot 4 Julie uitgestel.
Lumka Mahanjana, NVG-streekwoordvoerder, sê in ‘n verklaring aan Nuusflits die drie beskuldigdes bly ná hulle verskyning in die Atteridgeville-landdroshof in aanhouding. Daar word beweer die Tshwane-metropolisie en die polisie het die middag van 7 November 2024 ’n wenk gekry oor ’n diefstal by die Claudius-substasie in Laudium. By aankoms op die toneel is hyskrane, vragmotors en ’n vragmotor, gemerk met Stad Tshwane se kentekens, aangetref.
Toe die polisie bewys van magtiging vir die werk versoek en dit nie voorsien kon word nie, is elf persone op die toneel in hegtenis geneem. Tien van hulle is later uit polisie-aanhouding vrygelaat.
Madimetja Jacob Malebane (38), ook ’n Tshwane-amptenaar, wat op dieselfde dag in hegtenis geneem is, het op 28 November 2024 in dieselfde hof voorgekom en is op borgtog vrygelaat.
Tydens die polisie se ondersoek is vasgestel dat Mahlangu, Baloi en Kubayi die toneel verlaat het voordat die polisie op die toneel aangekom het. Lasbriewe vir hul inhegtenisneming is uitgereik en die drie beskuldigdes is op 1 Julie 2025 by hul werksplekke in hegtenis geneem.
Lees meer oor die voorval hier onder:
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





