Brekende Nuus
Nuus

Publiek gewaarsku teen bedrieërs wat hulle as polisie voordoen

Foto: Ter illustrasie

GAUTENG. – Die Tshwane-polisie waarsku inwoners teen bedrieërs wat hulle telefonies as polisiebeamptes voordoen en mense dreig met inhegtenisneming indien hulle nie geld betaal nie. Die verdagtes beweer dat lasbriewe vir hul slagoffers se inhegtenisneming uitgereik is en dat hulle geld moet betaal om die aanklagte te laat vaar of die lasbriewe te laat kanselleer. Die bedrieërs stuur na bewering ook vervalste arrestasielasbriewe deur WhatsApp om hul eise geloofwaardig te laat lyk.

Kapt. Johan van Dyk, polisiewoordvoerder, sê hierdie tipe bedrogspul doen al ’n geruime tyd die rondte in die Tshwane-polisiëringsdistrik. Die verdagtes beweer onder meer dat hulle van die Lyttelton-polisiekantoor of ander polisiestasies in die distrik skakel. Van Dyk waarsku dat geen geld betaal moet word aan iemand wat betaling eis om ’n strafsaak te laat vaar of ’n arrestasielasbrief te kanselleer nie. ’n Dokument wat soos ’n amptelike lasbrief lyk en deur WhatsApp ontvang word, beteken nie dat dit eg is nie.

Volgens die polisie moet mense wat sulke oproepe of verdagte dokumente ontvang, kalm bly, geen geld oorbetaal nie en die inligting by hul plaaslike polisiekantoor se bevelvoerder verifieer. Die publiek moet ook nie persoonlike besonderhede of bankinligting met die bellers deel nie. Telefoonnommers, WhatsApp-boodskappe en dokumente wat as bewys kan dien, moet bewaar word sodat dit by die polisie aangemeld kan word.

Die polisie sê hy beskou die nabootsing van polisiebeamptes en die bedrieglike gebruik van polisie-identifikasie en dokumente as ernstig.