GAUTENG. – Daniel Schubert (61) en Adriaan Petrus du Plessis (49) het Woensdag op aanklag vir die besit van vermoedelik gesteelde eiendom en die besit van ongeraffineerde goud ter waarde van R16 miljoen in die Kempton Park-landdroshof verskyn.
Kol. Katlego Mogale van die Valke sê die twee is gearresteer nadat die eenheid vir ernstige georganiseerde misdaadondersoeke in Germiston inligting oor ’n grys BMW wat vanaf die Vrystaat na Gauteng onderweg was met die doel om goud te verkoop, ontvang het. Polisiebeamptes van die Valke, Gauteng en blitspatrollie het die verdagte voertuig op die R21 opgemerk en suksesvol tot stilstand gebring.
Tydens ’n deursoeking van die voertuig en die insittendes, is op ’n sak wat 80 goudstafies van 100 gram elk bevat, afgekom. Die verdagtes kon geen dokumentasie vir die vervoer van die materiaal toon nie en is in hegtenis geneem.
Tydens die hofverskyning is die saak vir ‘n formele borgtogaansoek tot 22 Mei uitgestel. Die verdagtes bly in aanhouding.
Het jy kommentaar oor die berig? Jy kan nou aan Nuusflits lesersbriewe skryf en dalk word joune gepubliseer. Rig jou brief aan die redakteur by [email protected]





