KWAZULU-NATAL. – Twee mans is vroegoggend in ‘n ongeluk op die hoek van Pine- en Gardinerstraat in Durban oorlede. Nog twee persone is beseer.
Garrith Jamieson van ALS Paramedics sê die ongeluk tussen ‘n vragmotor en voertuig het net voor 03:00 plaasgevind.
Met aankoms op die toneel is twee mans, vermoedelik in hul 30’s, dood verklaar. Nog ‘n persoon wat in ‘n wrak vasgekeer was, is deur gevorderde lewensondersteunende paramedici gestabiliseer terwyl Durban-brandweerdienste gewerk het om die man met reddingskake te bevry. Die man is kritiek beseer en is vir verdere mediese behandeling na ‘n nabygeleë hospitaal vervoer.
Nog ‘n persoon wat ernstig beseer is, is op die toneel behandel en na ‘n hospitaal geneem.
Omstandighede van die ongeluk is onbekend, maar die polisie was op die toneel en is besig om die voorval te ondersoek.





