KWAZULU-NATAL. – Twee verdagtes, 27 en 30 jaar oud, is Maandag tydens ‘n skietgeveg met die polisie by Glebelands-hostel in Umlazi dood.
Lt.kol. Paul Magwaza, polisiewoordvoerder, sê in ‘n verklaring die polisie was op soek na ‘n verdagte in verband met ‘n voertuigkaping wat op 19 September in Harding plaasgevind het. ’n Voertuig is glo op die betrokke dag deur vyf gewapende verdagtes gekaap. Een van die verdagtes is reeds in hegtenis geneem, terwyl die polisie steeds na die oorblywende verdagtes gesoek het.
Inligting is ontvang dat een van die verdagtes glo by die hostel wegkruip. ‘n Operasie is geloods, waarop polisiebeamptes Maandagaand aan die deur geklop en hulleself geïdentifiseer het. Die inwoners het op die polisie begin skiet, wat tot ‘n skietgeveg gelei het. Twee verdagtes is tydens die voorval dood.
Die polisie het twee ongelisensieerde vuurwapens en ses lewendige rondtes ammunisie op die toneel gevind.





