FLORIDA, GAUTENG. – Marishka Davids (30) wat na bewering op 11 Februarie 2024 saam met haar vriendin Zakkiya Raymond (38) met petrol gegooi en aan die brand gesteek is, het Dinsdagnag gesterf.
Mike Harvey, wat aan Davids bekend was, is op 18 Februarie in verband met die voorval in hegtenis geneem.
Zakkiya Raymond is Maandag ter ruste gelê terwyl Davids steeds om haar lewe geveg het. Albei het ernstige brandwonde opgedoen en weke in die hoësorgeenheid deurgebring. “Sy is Dinsdag om 23:05 oorlede,” het Davids se ma haar dood bevestig.
Volgens kol. Dimakatso Nevhuhulwi, polisiewoordvoerder, het Harvey gister weer in die Roodepoort-landdroshof verskyn. Hy kon die vorige keer nie in die hof wees nie, omdat hy self ook brandwonde opgedoen het.
Nuusflits het só oor die insident berig.
Bronne: Times Live, SAPD





