Luxolo Namette (44), ’n UDM-raadslid en voormalige onderburgemeester van die Nelson Mandelabaai-munisipaliteit, is Saterdagmiddag in Motherwell doodgeskiet. Namette was volgens die polisie by ’n plaaslike haarsalon toe hy ’n telefoonoproep ontvang het. Hy het na buite gestap om die oproep te beantwoord, waar ’n onbekende aanvaller hom twee keer in die kop geskiet het. Hy het op die toneel aan sy beserings beswyk.
Brig. Nobuntu Gantana, polisiewoordvoerder in die Oos-Kaap, sê die skietvoorval het omstreeks 15:44 in Umnulu-straat, NU9, plaasgevind. Die polisie het in die gebied gepatrolleer en is na ‘n moordklagte ontbied. Patroondoppies, oorfone en twee selfone is op die toneel gevind. Die verdagte is nog nie geïdentifiseer nie, geen inhegtenisnemings is gemaak nie en die motief vir die moord is onbekend. Die Motherwell-polisie ondersoek die saak.
Andrew Whitfield, DA-leier in die Oos-Kaap, het namens die party sy medelye met Namette se familie, vriende, kollegas en die UDM uitgespreek. Hy het ’n beroep op die polisie gedoen om die ondersoek deeglik voort te sit en te verseker dat diegene wat vir die moord verantwoordelik is, voor die gereg gebring word.