WES-KAAP. – ‘n Adjudant-offisier verbonde aan die Valke (DPCI) het glo Saterdag sy vrou tydens ‘n huishoudelike dispuut doodgeskiet. Die beskuldigde het Maandag in die hof verskyn, waarna die saak tot 30 Desember uitgestel is.
Lizzy Suping, woordvoerder van die polisiewaghond Opod, sê na bewering het die egpaar by hulle huis in Khayamandi in Stellenbosch in ‘n argument betrokke geraak. Die vrou het na die bure gehardloop, waar die beskuldigde ten aanskoue van die bure op haar geskiet het. Beide is die buurhuis in terwyl die beskuldigde aanhou skiet het.
Die vrou het op die toneel aan haar beserings gesterf, waar sy dood verklaar is.
Die polisiebeampte is deur Opod in hegtenis geneem en van moord aangekla. Tien afgevuurde koeëldoppe en twee koeëlpunte is op die toneel gekonfiskeer.
Met Maandag se eerste hofverskyning in die Stellenbosch-landdroshof is die saak vir ‘n borgaansoek uitgestel. Die beampte is in afwagting van die hofsaak in die Allandale-aanhoudingselle.





